Our 947 cyclists actively raising funds

With the famous 947 cycling challenge around the corner (20 November 2016), our TEAMBeulah cyclists are actively raising funds for our Beulah Africa Charity. Read more about Hennie Viljoen and why he will be cycling with us this cause…

“Johan van der Merwe, destyds ’n jong onderwyser aan die Hoërskool Prieska, was gedurende November 1976 instrumenteel in die sendingroeping wat ek van die Here ontvang het. In 1977 het hy my ook aangemoedig om te begin fietsry nadat ek die vorige jaar ’n groot rugoperasie gehad het en in matriek nie meer kon rugby speel nie. ’n Paar van ons jongmanne het besluit om gedurende die September vakansie van Prieska tot in die Kaap met fietse te ry. Ons het ook besluit om dié geleentheid te gebruik om fondse in te samel vir die Soon le Roux Jeugkampterrein wat net buite Prieska langs die Oranjerivier geleë is. Jannie Visser, Abrie Augustyn, Johan van der Merwe (onderwyser) en ekself was die fietsryers. Koos Brand wat toe reeds sy lisensie gehad het, het ons Datsun 1000 bakkie as diensvoertuig bestuur. Ons het, as ek reg onthou, daarin geslaag om meer as R3500 in te samel. In daardie jare was dit ’n aansienlike bedrag. (In 1981 het ’n nuwe Nissan 1400 bakkie, trekyster en kappie ingesluit, minder as R4000 gekos.) Op universiteit was ek vir drie jaar deel van die Kovsies se jaarlikse Sending-fietstoer (1978-1980).

Na 34 jaar het ons kinders my in 2014 omgepraat om weer te begin fietsry. Hierdie keer ter ondersteuning van ons GoodYear-beursfonds. Amos Agrimin Noord-Kaap het ’n GF4GF Centre (GF4GF staan vir Good Foundations for Good Fruit) net buite Groblershoop langs die Oranjerivier geplant. Ons neem jaarliks matrikulante uit ons landelike en boerderygemeenskap in om hulle omvattend te dissipel en van goeie fondasies te voorsien. Na hulle GoodYear het baie van hulle die behoefte om verder te gaan studeer, maar min het die nodige fondse om dit te doen. Dit het daartoe gelei dat ons die GoodYear-Beursfonds begin het.

Met die ondersteuning van Beulah Africa (’n organisasie vir gemeenskapsontwikkeling en transformasie) het daar reeds meer as 40 fietsryers die afgelope twee jaar in Johannesburg deelgeneem aan die 947. Hierdie jaar sal ek die derde keer deelneem. Van ons studente gaan ook weer deelneem en is reeds hard aan die oefen.

Een van die waarhede wat ons gedurig aan studente oordra is dit: Wat jy het, kan jy maklik verloor. Wat jy weet, kan niemand van jou wegneem nie. Daarom is kennis en insig belangriker as besittings. Nou het jy die geleentheid om ’n waardevolle bydrae te maak om studente wat goeie fondasies gekry het, te help om ’n professionele kwalifikasie aan ’n universiteit of kollege te verwerf.

Persoonlik wil ek poog om hierdie jaar R50 000 vir die beursfonds in te samel. My tyd is egter baie beperk en daarom vra ek dat jy ’n oop hand en hart vir hierdie Jesaja 58 en Jakobus 1:27-saak sal hê. By voorbaat baie dankie.”

For more information please contact us at: teambeulah@ beulahafrica.co.za or npc@ beulahafrica.co.za